Hernu jou troubeloftes

hernu

Hernu jou troubeloftes tydens Huweliksweek by die INTIEM Love Bridge in Pretoria!

Wat is dit?
’n Hernuwing van troubelofte-seremonie is ’n viering van die huwelik maar ook ’n intieme belofte voor God tussen man en vrou eb ’n bevestiging van julle beloftes aan mekaar.

Hoekom doen mens dit?
Omdat jy graag vir jou maat wil sê: “Ná al hierdie maande/jare kies ek jou wéér. Ek is nie spyt oor my keuse nie en om met jou getroud te wees is waarlik ‘n fees . . .” Natuurlik worstel elke huwelik deur laagtepunte, maar paartjies wat vasbyt pluk die vrugte en miskien het julle huwelik net weer ‘n bevestiging nodig dat julle toegewyd is om dit te laat werk – vir ewig.

Julle huwelik was dalk tot dusver perfek en julle is bly oor die besluit wat julle destyds gemaak het. Die kans is egter beter dat julle saam klippe gekou het en besef het dat, dit maak nie saak hoe moeilik die slegte tye was nie, die goeie tye het dit als die moeite werd gemaak...

Reël jou private hernuwing of beplan ’n seremonie vir jou kerk:
Die seremonie kan privaat wees of in groepsverband geskied, waar julle na mekaar draai, en vir mekaar te sê wat julle op die hart het. (Díégene wat sukkel om uit die vuis te praat, kan dit aflees). Nooi jou naaste familie en vriende om die seremonie by julle huis by te woon. Daar is ook talle kleiner venues beskikbaar wat ook hierin spesialiseer – as julle ’n groot byeenkoms daarvan wil maak.

Indien jy dit in die kerk wil doen, gesels vooraf met jou dominee. Hy/sy kan ’n preek voorberei spesifiek vir huwelike. Al die paartjies kan dan na mekaar toe draai en hulle beloftes vir mekaar sê, of beloftes agter die dominee aansê.

Hernu jou troubeloftes by die "Intiem Love Bridge" ter viering van SA Huweliksweek

Vier jou huwelik hierdie jaar en hernu jou troubeloftes by die eksklusiewe Intiem Love Bridge in Pretoria!

WANNEER:
Die brug is oop vir die publiek, so jy kan enige tyd gaan!

WAAR:
Intiem Love Bridge (langs Huckleberry’s restaurant) in Magnolia Dal
H/v Florence Ribeiro Laan en Nicolson Straat, Pretoria

KOSTES:
Geen koste - neem net jou eie gegraveerde slot saam.

 


 

Riglyn vir herbevestiging van huweliksbeloftes

Man:

  • Aan die begin het ek jou GEKIES en geneem as my vrou
  • Ek bevestig vandag dat ek steeds glo en bely dat jy deur die Here aan my gegee is
  • Ek wil vir jou BAIE dankie sê vir die jare wat ons reeds getroud is – jy was en is ’n ster, wat onmisbaar in my lewe geword het!
  • By hernuwing vandag, kies en neem ek jou weer as my vrou en lewensmaat, want jy is die beste!
  • Ek vra jou nederig om verskoning waar ek jou baie keer in die steek gelaat en baie seer gemaak het – weet net dit was nooit my doelbewuste intensie
  • Ek belowe egter opnuut dat ek jou baie liefhet, jou altyd sal beskerm, jou altyd sal versorg, jou altyd sal koester en primêr op jou behoeftes sal fokus
  • Ek kies opnuut om jou belange en begeertes, BO myne te plaas
  • Verder onderneem ek opnuut om jou nooit te verlaat of by enige ander vrou ooit toenadering te soek nie – jy is die ENIGSTE fokus van my liefde
  • My onderneming is ook dat ek as hoof van ons huis, ons as gesin, DOELBEWUS na die beste van my vermoëns sal lei en bestuur
  • Ek kies en verklaar vandag, dat ek saam met jou wil oud word en die mooiste en die beste van die lewe saam met jou wil geniet
  • Ek het jou BAIE lief en sal hierdie verbond gestand bly nakom – tot die dood ons skei!


Vrou:

  • Aan die begin het ek JA gesê om jou vrou te wees
  • Ek bevestig vandag dat ek steeds glo en bely ek deur die Here aan jou gegee is
  • Ek wil ook vir jou BAIE dankie sê vir al jou liefde en omgee – ek is trots op jou en waardeer jou oneindig baie!
  • By hernuwing vandag, aanvaar en neem ek jou weer as my man en lewensmaat
  • Ek vra jou nederig om verskoning waar ek jou baie keer in die steek gelaat en baie seer gemaak het – weet net dit was nooit my doelbewuste intensie nie
  • Ek belowe egter opnuut dat ek jou opreg sal respekteer, jou altyd sal help, jou altyd sal bystaan, jou altyd sal aanmoedig en primêr op jou behoeftes sal fokus
  • Ek kies opnuut om jou belange en begeertes, BO myne te plaas
  • Verder onderneem ek opnuut om jou nooit te verlaat of by enige ander man ooit toenadering te soek nie – jy is die ENIGSTE fokus van my liefde
  • My onderneming is ook dat ek as jou hulpmaat, DOELBEWUS, na die beste van my vermoëns sal dien en aan jou sal onderwerp
  • Ek kies en verklaar vandag, dat ek saam met jou wil oud word en die mooiste en die beste van die lewe saam met jou wil geniet
  • Ek waardeer jou en gee myself opnuut aan jou in hierdie verbond – tot die dood ons skei!

funksie

Funksie vir getroude paartjies!

verteljouvriende2016

Vertel jou vriende

wordambassadeur

Word 'n Ambassadeur