3. Maak van fisieke beleggings ’n gewoonte

Fisieke intimiteit is nodig vir julle om nader aan mekaar te groei en naby aan mekaar te bly, maar passie en romanse is net so belangrik om julle huwelik te onderskei van ’n doodgewone vriendskapsband.

Hier is ’n paar maniere waarop jy op ’n fisieke vlak in jou huwelik kan belê:

  • Verminder die sentimeters tussen julle. Maak ’n punt daarvan om mekaar nié te veel persoonlike ruimte te gee nie! Ja, enige mens het soms sy persoonlike ruimte nodig, maar maak seker daar is nie te veel daarvan tussen julle nie. Wanneer julle die opsie het om op verskillende rusbanke televisie te kyk of saam op ’n klein bankie te sit, kies eerder die oënskynlik ongemakliker opsie sodat julle lyf teen lyf kan sitlê. Staan by mekaar in ’n sosiale omgewing in plaas van elkeen in sy eie hoek van die vertrek.
  • Maak fisieke kontak met mekaar wanneer julle kan. Daar is soveel geleenthede hiervoor. Hou haar vas wanneer sy voor haar klerekas staan en besluit wat om aan te trek, soen hom in sy nek terwyl hy staan en tande borsel, hou hande vas as julle in die supermark-ry staan. Elke mens het ’n inherente behoefte aan menslike aanraking. As dit nie gebeur nie, ontstaan iets wat bekendstaan as “velhonger”, skryf Suzanne Degges-White, ’n sielkundige op Psychology Today. Mense wat alleen bly, kry maklik velhonger, maar ’n paartjie wat soos skepe in die nag by mekaar verby leef, kan dit ook ervaar. Hierdie honger kan ernstige emosionele en fisieke gevolge hê, soos depressie, pyn en angs. Maak seker dit gebeur nie met een van julle twee nie!
  • Inisieer seks – minstens een keer per week. Ja, julle het dalk ’n gesonde sekslewe, maar wie is die “bestuurder” en wie is die “passasier”? ’n Gesonde sekslewe word deur albei partye bestuur. Julle moet albei ewe veel inisiatief neem en daar is verskeie redes hiervoor. Elke persoon wil voel dat hy begeer word. As jy wag dat manlief elke keer toenadering soek, kan hy voel dat jy bloot die party is wat “instem” sonder om dit ooit werklik te begeer (lees: sonder om hóm ooit werklik te begeer). Om seks te versoek, is ook ’n vorm van weerloosheid, aangesien jy jouself in ’n posisie stel om verwerp te word, sóú die ander party weier. Dit is nodig om soms weerloos voor mekaar te wees.
  • Belê avontuur in jou sekslewe (en in jou huwelik oor die algemeen). Jy belê ook in jou sekslewe wanneer jy voortdurend nuwe dinge soek om jul slaapkamer opwindend te hou. Hiermee sê ons beslis nie dat jy nodig het om elke seksspeelding op die mark te beproef nie (hoewel dit so af en toe ook ’n goeie finansiële belegging in jul sekslewe kan wees), maar ons waarsku julle wel om nie in ’n saai roetine te verval nie. Wissel dinge af deur sommer vroegoggend of in die middel van die dag in die kooi te spring (as julle geneig is om ’n quickie voor slaaptyd in te werk). Wissel julle posisies af – skep sommer jul eie posisies en doop dit die De Wet-koeksister of die Joubert-skêr. Belê ook romanse in jou huwelik. Dit kan deel van jou sekslewe vorm, of buite die slaapkamer bestaan en uiteindelik aanleiding gee tot ’n vonk in die slaapkamer. Verras jou maat met jou inisiatief en kreatiwiteit, en jul huwelik se bankbalans kry sommer ’n reuse hupstoot.

4. Maak van finansiële beleggings ’n gewoonte

  • Ja, jy móét finansieel in jou huwelik belê. Dit kan ook help om in bogenoemde drie afdelings van jul huwelik te groei. Soms sal jy die keuse moet maak – gaan jy ’n geleentheid by jou werk nastreef en nog ’n paar rande inwin, of gaan jy eerder daardie geld van die hand wys en die tyd op jou maat spandeer? Die idealistiese ding om te sê, is dat liefde nie geld kos nie, maar kom ons wees eerlik: Dit ís noodsaaklik vir jou om geld in jou huwelik te belê. Dit is nodig om te spaar vir julle toekoms en dit is nodig om finansieel stabiel te wees om jou huwelik te vrywaar van onderliggende spanning. Hier is ’n paar maniere waarop jy op ’n finansiële vlak in jou huwelik kan belê:
  • Stel ’n begroting vir date night op. Dit moet deel van jul maandelikse uitgawes wees, soos boet se tennislesse en sussie se dramaklasse. Maak die begroting ook ruim genoeg sodat julle verskillende tipes dates kan beproef (nie elke keer pizza en wyn op die sitkamerbank nie – hoewel daar niks fout is hiermee nie!).
  • Maak ’n punt daarvan om jou maat met geskenke te bederf. Ja, die meeste van ons sal sê dis nie nodig nie, maar dit is tóg lekker om te voel jou maat waardeer jou en dat hy/sy dit wys met ’n bos blomme, ’n goeie bottel jenewer of kaartjies vir jou gunsteling band.
  • Koop kennis om jou huwelik te versterk. Wanneer jy ’n nuwe stokperdjie onderneem, bestee jy waarskynlik geld aan ’n nuwe boek of twee, jy kyk YouTube-video’s, jy woon uitstallings en demonstrasies daaroor by. Dieselfde geld vir jou huwelik. Koop daardie boek wat julle kan help om konflik te hanteer, koop die toep, woon huwelikseminare en huwelikskampe by, en bestee geld op die INTIEM Marriage Capsule sewe-weke uitdaging, wat beloof om ’n inspuiting vir jul huwelik te wees.
  • Begroot vir ’n wegbreeknaweek of twee per jaar. Hoewel date night wonderlik is om in voeling met mekaar te bly, is dit soms nodig om die kinders en die honde weg te stuur, die huis toe te sluit en heeltemal saam met jou maat te ontsnap – bos toe, see toe, berge toe . . . Maak daarom minstens een wegbreeknaweek per jaar deel van julle begroting. As julle dit twee keer per jaar of selfs kwartaalliks kan doen, soveel beter!
  • Bestee daardie rande om jul huwelik lekkerder en makliker te maak. Daardie twee-uur koffiewinkel-koffie wat julle kan help om net weer op te vang, die skottelgoedwasser wat aan julle meer tyd vir mekaar besorg (in plaas daarvan dat een agter die opwasbak moet staan) en daardie terapiesessies waar julle kan leer hoe om mooier met mekaar te praat wanneer julle baklei . . . dit is alles goeie beleggings in jou huwelik.
  • Hou die vlam aan die brand. Soms is ’n bietjie paraffien nodig om die vlammetjie aan die brand te hou en dit sal beteken dat jy nou en dan geld op mooi onderklere mag – nee, móét – bestee. Of op kerse wat die hele slaapkamer vol brand. Of lekkerruik-masseerolie . . .

5. Maak van positiewe gedagtes ‘n belegging…

Dr Caroline Leaf, ‘n Christen-neurowetenskaplikes wat fokus op die verskille tussen manlike en vroulike breine en hóé om jou brein te leer hoe om positief te dink, vertel dat giftige denke in fisieke, emosionele en verstandelike spanning kan ontaard, wat weer ‘n voorloper tot siekte kan wees. Dit kan ook jou huwelik vergiftig. Giftige gedagtes sluit in: Onvergewensgesindheid (bitterheid, verwyt, woede, haat en geweld), passief-aggressiewe gedrag (om een ding te dink en ‘n ander ding te doen, om nie te sê hoe jy voel nie, om ‘n vrees vir konflik te hê), om ‘n vrees vir ander te hê (om alles altyd te analiseer en krities op ander of jouself te wees), selfhaat (om te dink jy is nie goed genoeg nie), skuldgevoelens (gevoelens van waardeloosheid en skaamte te koester), om negatiewe woorde te uiter (soos “ek kan nie”… ).

Volgens Caroline het God egter ‘n meganisme in ons breine ingebou wat ons die vrye wil gee om inligting te aanvaar of te verwerp. Ons het die opsie om negatiewe inligting uit ons gedagtes te verwerp voor dit ons houding en emosies skade doen. Daar is twee groepe emosies: positiewe, geestes-gebaseerde emosies en negatiewe vrees-gedrewe emosies. Geloofsgebaseerde emosies soos liefde, vreugde, sagmoedigheid, selfbeheersing en vergewensgesindheid het goeie houdings en gedagtes tot gevolg. John praat van ‘Positive Sentiment Override’’ (PSO) of die Positiewe Perspektief. Dit is iets waaraan paartjies elke dag kan werk.

Om ‘n Positiewe Perspektief op jou maat en verhouding te hê, help jou om probleme beter op te los in ‘n konfliksituasie, meer pogings tot herstel aan te wend en jou maat oor die algemeen in ‘n meer positiewe lig te sien.

  • As jy ‘n positiewe houding jeens jou huwelik het, is die stryd halfpad gewonne. Moenie saam-kla oor jou maat langs die braaivleisvuur of by die girls night nie. Wees positief oor jou huwelik. Om die waarheid te sê, skep ‘n daaglikse gewoonte om positiewe interaksies met jou maat te hê. Sê dankie, gee komplimente, en neem tyd om dinge uit te lig wat jou maat goed sal laat voel.
  • Leer jouself om met ‘n dankbare gees in jou huwelik te lewe en elke klein gebaar van jou maat se kant af raak te sien. Die koppie koffie in die oggende, die bystand wanneer jy skottelgoed was, die sagte stem waarmee jou maat jou antwoord…
  • Pas jou voorkoms op en doen moeite daarmee om goed vir jou maat te lyk. Dit is te maklik om jouself in ‘n gevestigde verhouding te laat gaan. Dit het nie net ‘n negatiewe effek op hoe jou maat jou sien nie, maar ook op hoe jy oor jouself voel. 
  • Belê elke dag humor en lighartigheid in jou huwelik. Dit is nie net ‘n afleiding van ‘n moeilike situasie nie – dit help mense waarlik om moontlikhede raak te sien, meen Barbara Fredirickson, ‘n sielkundige aan die Universiteit van North Carolina en outeur van Positivity. Positiewe gedagtes gee aanleiding tot ‘groter prentjie visie’, en dit lei tot voordele soos periferiese visie en verhoogte kreatiwiteit. Positiewe emosie gee lewe aan dankbaarheid, inspirasie en nuuskierigheid.

En laastens: Belê in jouself. Wees die optimale jy wat jy kan wees. Jy kan nie aan jou maat petrol voorsien as jou eie tenk nie vol is nie. Bly nuuskierig en groei. Jaag jou drome ná en doen wat jy kan om innerlik gelukkig te wees sodat jy daardie geluk weer terug in jou huwelik kan ploeg. Onthou ook om gereeld jul huwelik se bankbalans na te gaan.

Jy dink dalk dat dinge gesond lyk, maar met nadere ondersoek is julle diep in die skuld. Die goeie nuus is egter: Met ’n bietjie toewyding kan julle gou uit jul negatiewe situasie kom. Volg ons wenke en sien hoe jou huwelik se waarde groei – en kort voor lank is julle huweliksbiljoenêrs!

Addisionele bronne: www.projecteve.com, www.all4women.co.za, www.focusonthefamily.com, www.msn.com. www.thriveglobal.com

2018 Tema 1

2018 Tema

Welkom blokkie AFR

2018 Tema 2

neem deel take part

Neem deel!

Staan saam met ons op vir huwelike in SA...Hier is 10 oulike tips om jou huwelik behóórlik te vier!


Lees meer...

verkeer sosiaal

Kuier saam met ons!

Maak seker jy mis niks nie! Volg ons op Facebook en Twitter en maak seker ons het jou epos adres!


Lees Meer...

2015 borge

Huweliksweek Borge

'n Projek soos SA Huweliksweek is nie moontlik sonder die samewerking van fantastiese borge nie.


Lees Meer...

INTIEM Love Bridge

'n "Love Bridge" vir paartjies was op 6 September 2014 in Pretoria geloots. Met dié projek, deur die organiseerders van Huweliksweek SA in samewerking met Cool Capital, word 'n hernude fokus op die huwelik as instelling geplaas.

Love Bridge is gratis en oop vir die publiek in Magnolia Dal in die hartjie van Pretoria. Geniet ‘n cappuccino by Huckleberry’s en sit jul slot aan die brug.

Koop jou eie slot by enige hardeware winkel soos Builders Warehouse, en laat graveer dit by meeste juweliere of graveer besighede. Huweliksweek het gebruik gemaak van Trophy and Medal Boutique in Garsfontein.

lovebridge